Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 11 OKTOBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

HET U NIE MEER TOEGANG TOT DIE SARL SE WEBBLAAIE VIR LEDE ALLEEN NIE?

KONTROLEER U REGISTRASIE VIR DIE TUISKONSTRUKSIEKURSUS OP DIE WEBWERF

OKTOBER-RAE

52ste JOTA/JOTI 2009 VOLGENDE NAWEEK

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

HET U NIE MEER TOEGANG TOT DIE SARL SE WEBBLAAIE VIR LEDE ALLEEN NIE?

Indien u nie u ledegeld teen 30 September betaal het nie, sal u ongelukkig nie verdere toegang tot die bladsye vir lede alleen, en tot die baie artikels wat daar vir aflaai beskikbaar is, of Radio ZS aanlyn of u posbus, van die SARL se webwerf hê nie. U kan egter die situasie vinnig beredder deur u ledegeld van R340 sonder versuim te betaal. Kontak vir Mariska Faasen by 011 675 2393 vir besonderhede aangaande elektroniese oordragfasiliteite of die korrekte uitstaande bedrag. Ledegeld vir ’n gewone lid vir vanjaar is R340. Senior- en juniorlede betaal minder.
Nadat u u uitstaande bedrag betaal het, mag dit tot twee weke neem om die proses te voltooi wat u weer toegang tot die webblaaie sal gee, maar u sal ten minste weet dat u spoedig weer toegang sal geniet. En, wat meer is, u sal weer ’n trotse ondersteuner van amateurradio en die SARL wees!

KONTROLEER U REGISTRASIE VIR DIE TUISKONSTRUKSIEKURSUS OP DIE WEBWERF

Indien u vir die tuiskonstruksiekursus geregistreer het, kan u op die webwerf kontroleer of dit in orde is. Besoek www.sarl.org.za, klik op ‘activities’ en kies RTA waar u ’n koppeling na die bladsy vir die tuiskonstruksiekursus sal vind. Daar is nog slegs 6 sitplekke beskikbaar vir die kursus in Gauteng. Dit is ’n goeie idee om vas te stel of daar nog plek beskikbaar is voordat u registreer. Elke kursus kan slegs 20 persone akkommodeer.
Die kursus sal deur John Willescroft, ZS6EF, aangebied word.

OKTOBER-RAE

Die laaste RAE vir vanjaar word op 22 Oktober afgelê. Vir aspirant radioamateurs in die Pretoria- en Centurionomgewing word dit weer by Die Hoër Tegnologiese Skool John Vorster, gedoen. Die skool is geleë te Meyerstraat 1 072, Rietfontein.
Kandidate moet nie later as 18:30 by die eerste klaskamer links van die hoofingangshek rapporteer.
Onthou asb. jou ID-boekie, sakrekenaar, `n ekstra pen of twee en `n koeldrank of water.
Vir enige inligting, kontak asb. vir Paul, ZS6PR, by Tel. 012-332-3157.
Magalies Radioamateurklub, ZS6MRK, en John Vorster Radioamateurklub ZS6JVT, wens alle kandidate sterkte toe met die komende RAE.

52ste JOTA/JOTI 2009 VOLGENDE NAWEEK

Dit is reeds weer daardie tyd van die jaar wanneer die Scouts en Guides vir hulle jaarlikse “Jamboree-on-the-Air” op die 17de en 18de Oktober wêreldwyd op die lug sal wees. In Suid-Afrika begin dit op Saterdag om 00:01 en eindig op Sondag om 23:59 SAT.
Of u met ’n stasie help of nie, u is steeds welkom om deel te neem, veral indien u ’n oudpadvinder was toe u jonger was. Hou net u gesprekke kort en laat die jongmense die meeste praatwerk doen; u sal hulle ’n groot guns bewys.
Demonstreer u gunstelingmodus, of dit nou ESB, AM (A3E), stadige aftas TV, pakket of GG is. Al word die seine selfs net gehoor, sal dit nogtans interessant vir die deelnemers wees. Morsekode wat stadig gestuur word kan ’n werklike aantrekkingskrag wees, veral wanneer hulle besef hulle kan dit ook doen.
Indien u dalk volgende Saterdag ’n klubbyeenkoms het, probeer om die klubstasie te aktiveer en stel u lede bekend aan die Padvinderbeweging.
Onthou die padvinders is jonk en het lang geheues.
Vir meer inligting aangaande JOTA/JOTI, die internasionale padvindersbeweging, gaan kyk by www.jota.sub.cc.

KOMPETISIENUUS

Die voorlopige uitslae van die SARL-HF-GG-kompetisie is bekend gemaak. Slegs dertien logs is vir die kompetisie ontvang, waarvan die meerderheid volgens die reels ingedien is.

1ste Wes-Rand ARK, ZS6WR, 100 punte;
2de Vidi la Grange, ZS1EL, 98 punte;
3de Pierre van Deventer, ZS6BB, 86 punte;
4de Allan Smith, ZS1AAX, en Hans Kappetijn, ZS6KR, 84 punte.
Die beste telling op 'n enkelband is deur Vidi la Grange, ZS1EL met 48 punte op 40 meter.
Die volledige uitslae in in HF Happenings 374 gepubliseer.

KLUBNUUS

Die Sasolburg Radioklub kondig met trots sy nuwe komitee aan wat vir die volgende jaar op sy AJV, gehou op 4 Oktober 2009, verkies is. Die lede is:
Voorsitter is Marius Preston, ZS4MP;
Ondervoorsitter is Frik Wolff, ZS6FZ;
Tesourier is Corné Cronjé, ZU6C;
Sekretaris is Riaan Greeff, ZS4PR.
Die Publieke skakelbeamptes is Gerald Smith, ZS6IG, en Andries Visagie, ZS6VL. Andries is ook in beheer van die klub se webwerf.
Die tegniese ontwikkeling is in die bekwame hande van Frik, ZS6FZ, en Ockerd Taljaard, ZS6LZ, besorg.
Die klub bedank die uittredende komiteelede vir hul ywer en goeie werk die afgelope jaar en die lede weet hulle gaan in die toekoms steeds die klub se naam hoog hou.
Tydens die AJV is daar ook welverdiende, pragtrofees aan verskeie klublede oorhandig.
Indien iemand by hierdie dinamiese klub wil aansluit kan u gerus met enige komiteelid skakel of stuur e-pos aan Riaan na zs4pr@qsl.net.
Die klub is ook trots om die SARL te ondersteun deur die volgende lede wat lede van die liga is: ZS6FZ, ZS4MP, ZS4PR, ZS6AXJ, ZS6LZ, ZR4CT ZS4FD, ZS4SS, ZS6VL, ZS4SM en ZS6XB.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds baie laag is. Daar is tans geen amptelike en sigbare sonvlekke nie.
20 en 40-m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa goed wees. Gedurende die oggende is daar moontlike kanse om kontakte met Australië te maak. Kontakte met Nieu-Zeeland gaan uitdagend wees. Daar ook moontlikheid van 20 en 15 m kontakte met Brasilië gedurende die oggende, laatmiddae en vroegaande. Gedurende die middae is daar goeie kanse vir 15 m kontakte met die VSA.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dae op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggende en laatmiddae goeie resultate oor die korter afstande lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer.
Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Oktober – Logstate vir die tweede been van die SARL se 80 meter QSO-geselligheid moet in wees;
17/18 Oktober - 52ste JOTA/JOTI 2009 Saterdag 00:01 tot Sondag 23:59;
22 Oktober – Radioamateureksamen landwyd om 18:30;
21 November – Tuiskonstruksiekursus, Gauteng by die NARS.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels alleenlik op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Echolink sal vandag nie beskikbaar wees nie. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, opgestel is.
Dankie dat u geluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003